top of page

ONS GESKIEDENIS

 

Die sewentiger jare van die twintigste eeu in SA is gekenmerk deur landwye onrustigheid en in 1976 sou die skole die middelpunt wees van emosies. Dit is in gedurende hierdie tyd en ‘n enkele jaar of wat voor die dorp Stellenbosch amptelik driehonderd jaar oud sou word, dat die Stellenbosch Handelskool formeel en stil-stil oorgegaan het in die eerste skool vir seuns en dogters vir die blanke deel van die Stellenbosse gemeenskap. Die ontstaan van Hoërskool Stellenbosch is egter voorafgegaan deur talle vergaderings en gesprekke wat nie noodwendig so rustig verloop het nie. Nadat die voorstel vir so ‘n skool reeds in die middel sestiger jare op die tafel geplaas is, moes baie water in die see loop voor die amptelike totstandkoming van die nuwe skool. Nog ‘n skool in ‘n dorp waar gevestigde en tradisionele skole aan onderwysbehoeftes voldoen het, was ‘n kontensieuse saak. Die noodsaaklikheid van die skool is deur individue en groepe bevraagteken. Dit was egter vir die voorstanders van die idee belangrik dat “‘n jong boompie tussen die ou en groot gevestigde bome gevestig moes word”. Die idee vir ‘n hoërskool waar beide geslagte saam kon skoolgaan, is met ywer gedryf en die name van bekende inwoners van Stellenbsoch kom voortdurend in notules voor. Die eertydse handelskool, aanvanklik gehuisves in die ou Lückhoff-skoolgebou in Banhoekweg, sou op 18 Julie 1977 ‘n volwaardige akademiese skool vir seuns en dogters word.

 

Vyf-en-dertig plus jaar gelede was slegs die naam van die dorp Stellenbosch en die begrip hoërskool bekend. Om die twee konsepte in een asem saam te noem, was vreemd. In ‘n dorp waar tradisie goed gevestig was en akademie beklemtoon is, moes die skool worstel om ‘n plek en naam te vestig.

 

Die skoolterrein sou ontwikkel word op die hoek van Martinson en Jannaschstrate, regoor Jan Marais Park en net langs Laerskool Stellenbosch. Die leerlingtal was 329: 241 meisies en 88 seuns. Die huidige koshuis, Huis du Preez,was die eerste gebou op die perseel en is vernoem na die eerste hoof van die handelskool. Die eerste skoolhoof van Hoërskool Stellenbosch sou mnr A. van den Berg wees en hy sou die leisels vir 20 jaar hou. Behalwe vir die beklemtoning en vestiging van ‘n goeie onderrig en –leerkultuur sou hy ook ‘n puik basis lê vir musiek en koorsang waarvoor die skool bekend sou word. In 1982 word die nuwe skoolgebou betrek met amper 400 leerders en meer as 20 voltydse onderwysers en ‘n uitgebreide kurrikulum.

 

Die skool is ‘n produk van die 20ste eeu, die gedagterigting sou gevorm word deur ‘n veranderde SA. Dit was dus relatief maklik om strukture van heel nuuts af te vestig sonder dat gevestigde idees en gedagtes noodwendig ‘n hindernis was. Die aanvangsjare sou egter nie pynloos wees nie en slegs baie harde werk en ‘n onderwysspan wat ‘n goeie mengsel van ervaring en jeug ingesluit het, was nodig om op die spoor te bly. In 1982 moes ouers nog toestemming gee dat die krieketspan teen ‘n skool in die bruin woonbuurte speel. Stilweg is die pad oopgemaak vir veranderinge in die samestelling van die skool, wat later sou kom. In 1982 word ‘n skamerige begin beloon met die eerste akademiese prestasie – ‘n A-simbool in die senior sertifikaat eksamen aan die einde van die jaar. Dit was egter die begin en ‘n verrassing vir baie, want die klas van 1986 lewer 17 A-simbole uit ‘n groep van 96 leerders en vestig Hoërskool Stellenbosch as ‘n top akademiese skool. Puik akademiese uitslae sou ‘n refrein word en in 2006 word die skool benoem as een van die top 10 skole in die Wes Kaap, wat voldoen het aan die vereistes tov akademie, soos bepaal deur die Wes Kaap onderwysowerhede. Hierdie prestasie is voorafgegaan met talle toekennings op verskeie gebiede.

 

Vir enige persoon wat in 2016 vir die eerste keer na baie jare weer by die skool moet instap, sal daar, behalwe die naam en basiese geboue, weinig bekend wees.  Met die verloop van die tyd is die kleredrag van die leerders verander en aangepas. Dawie van Emmenis was die 2de skoolhoof, opgevolg deur Dries van Wyk. In Julie 2015 is Theo Pellissier ingehuldig as die nuutste skoolhoof.  Daar is strukturele verandering aangebring binne die skool om ruimte beter te benut. Met ‘n steeds groterwordende aanvraag, is daar by drie geleenthede aangebou aan die koshuis. Vandag is daar oor die 600 seuns en dogters in die skool en die koshuis huisves 220 leerders. ‘n Oop vakkeuse is implementeer en ‘n besonder breë vakkeuse voldoen aan die vereistes van ‘n wye en gebalanseerde opvoeding. Daar is stelselmatig wegbeweeg van ‘n meer strakker reëlstelsel na ‘n waardegedrewe werkswyse. ‘n Baie effektiewe komitee-stelsel vir leerderleiers is implementeer en die sukses daarvan en dinamika van die leerders het ‘n fokuspunt van die skoolselsel geword.

 

Dit het oor die jare belangriker geword dat leerders vrae vra as om net antwoorde gereed te hê. Dit het ’n denkwyse geword en ’n kritiese ingesteldheid laat posvat.  Die jong skool kon nie op die ondersteuning van ’n gevestigde groep oudleerders terugval nie en moes leer uit eie foute en ’n aanvoeling van wat die regte ding is om te doen.

 

Die voorsitters van die beheerliggaam wat die afgelope jare ‘n groot rol gespeel het in die vestiging van die skool was, Prof DEW Schumann, Dr JS Engelbrecht, Mnr BJP Pienaar, Mnr AJ van Tonder, Prof J Meij, Dr JH Smit, Mnr HA van der Merwe, Mnr C van der Merwe en Mnr P Kloppers.

 

Die skool word as een van die top skole in die Wes Kaap beskou. Ministeriële toekennings en toekennings van die WKOD tov volgehoue voortreflike prestasies op akademiese terrein is die afgelope paar jaar, onder andere in 2011 en 2012, gemaak, asook toekennings as een van die Wes Kaap se top 20-skole. In 2015 ontvang die skool se top matrikulant, Carma Botha, ook die erkenning as die top presteerder in die Wynland en word as een van die top presteers in die land gevra om die opening van die Parliament in 2016 by te woon.

 

Honderde leerders van Hoërskool Stellenbosch lewer vandag ‘n groot bydrae op talle terreine van die samelewing. Ons glo dat sonder die skool, Stellenbosch en ook die breër Suid Afrikaanse samelewing vandag baie armer sou gewees het.

 

 

DIE KARAKTER VAN DIE SKOOL

 

Hoërskool Stellenbosch is ‘n skool vir seuns en dogters en die voertaal is Afrikaans. Die leerders is verteenwoordigend van die breë dorps-gemeenskap. In die koshuis is daar ook leerders van sover as Namibië. ‘n Gemeenskap met ‘n oorwegend christelike geloofsbeskouing word bedien en die  skool se godsdiensbeleid is op dié beginsels geskoei.

 

Hoërskool Stellenbosch wil ‘n gemeenskap vorm wat meehelp om leerders en onderwysers se dryfveer om uitsonderlik te presteer, te verwesenlik.  Akademie, kultuur en sport  werk in die proses interafhanklik daartoe mee en onderwysers en ouers begelei leerders deur die uitleef van waardes om as burgers tot ‘n gesonde demokrasie by te dra.

bottom of page