top of page

HUIS DU PREEZ

 

In that book which is, My memory, On the first page, That is the chapter when
I first met you, Appear the words…, Here begins a new life…

 

As Danté se vers bietjie aangepas kan word, is die ontmoeting met die koshuislewe vir baie kinders oor baie jare dalk die samevatting van “voorwaar hier het ‘n nuwe lewe begin”. Êrens in ons land of buiteland stap honderde oudkoshuisleerders rond wat nie noodwendig koshuislewe positief sou ervaar het nie, maar wat definitief ook nie ongeraak is deur jare in Huis Du Preez nie. ‘n Kenmerk van ons koshuisleerders is een van onafhanklik-wees, individualisties-wees, selfstandig-wees. Hulle is bymekaar geplaas vanuit alle dele van Suidelike Afrika, wat insluit Namibië en ander dele van die buiteland. Die meeste leerders is afkomstig vanaf die westelike dele van die land,  sover as Alexanderbaai, Springbok en omliggende dorpies, die weskus en binneland, die Karoo en Kaapse suidkus sover as Port Elizabeth. 

 

Ook die koshuisruimte wat die leerders – aanvanklik minder as 60 en tans 220 – bewoon, is dramaties op sigself en daar was soms deur die jare stormagtige onsekerheid en uitbundige selfversekerheid. Aanvanklik net een blok, slegs vir dogters, toe word die gebou in twee verdeel om seuns en dogters te huisves. Hierna word ’n tweeverdieping gebou aangebou. Die aanvraag die laaste jare het veroorsaak dat elke moontlike kamer gebruik is en ekstra ruimte is omskep om kinders te huisves. Dit was egter nie genoeg nie en daar is weer aangebou – ’n drieverdieping gebou is in 2005 voltooi. Hierdie woonruimte was vanaf die eerste dag van ingebruikneming reeds vol. Reeds in 2007 word daar weer aandag gegee aan die ontwikkeling van ekstra woonstelgeriewe vir senior dogters.

 

Daar is amper nie ‘n deel van die koshuis wat nie ‘n storie op sigself kan vertel nie – ‘n storie van spanning en konflik en vrede en rustigheid, blydskap en hartseer, vreugdes en trane, opgewondenheid en ook teleurstelling. Die bydrae van koshuiskinders tot die skool en prestasie op akademiese, sport en kultuurgebied en leierskap was en is enorm.

 

Die eerste koshuisvader was mnr Aubrey van den Berg (1977 – 1986) en hy is opgevolg deur mnre Les Dwyer (1987 – 1995), Dawie van Emmenis (1996 – 1999), Dries van Wyk (2000 – 2008), me Daleen Muller 2009 – 2011. Vanaf 2012 tot 2014 is die koshuis deur me D Muller en mnr André Cruywagen bestuur. Vanaf 2015 is mnr André Cruywagen in beheer as superintendent. Die matrones wat individueel of saam na kinders moes omsien, was me Horne, Dwyer, Engelbrecht, Franken en Van Wyk.

 

Koshuisleerders se lewe word gerig deur klokke, baie daarvan, koshuiskos, in- en uitteken, verslag doen van waarheen hulle wil gaan of nie wil gaan nie, kamermaats, kerk, skool en tallose aktiwiteite – alles binne die dorp Stellenbosch. Ons glo dat dit het van ons koshuiskinders mense gemaak wat suksesse en mislukkings kan hanteer, trots is op wie hulle is, trots is op hul omgewing, trots is op wat hul kan aanbied en wat met trots hul plek in die skool en breë samelewing kan volstaan.

 

Huis du Preez – Tuiste vir vele

 

bottom of page